Bitterbessie Blues-reeks:
Daar is drie dinge wat jy van die dorpie Portwig moet weet: Almal hier ken mekaar,
die hotel op die dorp spook, en 'n stuk van die coffee shop se Bitterbessie Blues-koek
is die beste doepa vir 'n gebreekte hart.

Bitterbessie Blues - boek 1
ANNA EMM
Beroemde skrywer, Emily de Milander, verdwyn uit die openbare oog en boek haarself in by die Portwig Manor onder 'n vals naam. Sy't net nodig om vir 'n paar dae weg te kom van haar knaende agente, haar dreigende sperdatums en haar ryk ma se alewige kritiek. Maar Emily het nie rekening gehou met die hotel se spoke óf met die aantreklike joernalis, Knox Wesley, wat ook op die dorpie opdaag nie.
Wanneer daar 'n moord gepleeg word in Portwig se boekwinkel, kan Emily en Knox dit nie weerstaan om ondersoek in te stel nie – elkeen om sy eie redes. Maar kan hulle lank genoeg uit mekaar se hare bly om die moordenaar te vang? En kan hulle dit doen vóór almal op die dorp uitvind wie Emily regtig is?

Kinkel in die kabel - boek 2
ANNA EMM
Emily de Milander sien uit na 'n romantiese week saam met die aantreklike joernalis uit die Kaap, Knox Wesley. Maar dan daag haar ex-verloofde ongenooid by die Portwig Manor op en krap dinge deurmekaar. Dit blyk egter gou dat daar meer agter die storie steek, en toe 'n wildvreemde man se liggaam in die Manor opduik, bevind Emily haarself weereens kniediep in 'n real life murder mystery!
Maar kan sy die moord oplos én haar dinge tussen haar en Knox regtrek? Want om agter moordenaars aan te snuffel in 'n spokerige ou hotel, was beslis nie één van hulle se idee van 'n romantiese tydjie nie.

Geraamtes in die kas - boek 3
ANNA EMM
Wanneer Emily de Milander, die bekende skrywer, van 'n lang boektoer af tuiskom, is al wat sy wil doen, om tyd met haar aantreklike joernalis-kêrel te spandeer. Maar wanneer Knox nie daar is om haar te ontmoet nie, begin sy onraad vermoed.

Naald in 'n hooimied - boek 4
ANNA EMM
Ná 'n effense ongelukkie, bevind Emily de Milander haarself gestrand in die ou Portwig Manor. Sy het niks om te doen nie, behalwe om te begin skryf aan haar nuutste murder mystery, 'n paar spoke op te jaag, en die bedrywighede oorkant die straat dop te hou. Wanneer sy haar verbeel sy sien 'n moord, bel sy die polisie, maar niemand wil haar glo nie. Daar is geen bewyse nie, geen liggaam nie. Waar begin sy soek?

Sewe sakke sout - boek 5
ANNA EMM
Portwig is baie opgewonde oor die troureëlings, maar nou lyk dit asof 'n dreigende storm en 'n paar punteneurige familielede dinge dalk in die wiele mag ry... Dit help natuurlik ook nie toe daar 'n dooie liggaam by die trouvenue opduik nie. Sal die polisie die moordsaak kan oplos voordat die bruid haar opwagting moet maak?