Die 72-uur 01 Missie.png

Die 72-uur Missie

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-15-3

Elliot weet nie wat dit was wat hom die horlosie in die tweedehandse winkel laat koop het nie. Die ding is oud en verwaarloos, en hou lankal nie meer tyd nie. Maar toe hy daardie oggend by PBS Press se kantore in die hysbak klim, begin die horlosie se wysers aanskuif. Amper asof dit, nes hy, die volgende 72 uur sekonde vir sekonde begin aftel...

 

Die afgelope sestien jaar het Elliot Wolfaardt hard gewerk om te verseker dat hy nooit weer die slagoffer van boelies sal wees nie. Maar dit beteken nie dat hy vergeet het wat Bryce Pieterson en Sonia Rautenbach aan hom gedoen het nie. Oor die jare het hy 'n plan in plek begin sit om wraak te neem en nou het die tyd uiteindelik aangebreek om daardie plan uit te voer. Al wat hy nodig het, is 72 uur.

Toe Franciska Olwagen hom daardie dag by die kongres in die Waterfront sien praat het, het sy al gedink Elliot Wolfaardt is intelligent … en baie aantreklik. Maar as persoonlike assistent vir PBS Press se CEO, is mans soos Elliot way out of her league. Eintlik is verhoudings oor die algemeen nie vir Franciska beskore nie. Nie met haar vaal voorkoms en veel valer persoonlikheid nie... Maar dan daag Elliot Wolfaardt een Vrydagoggend by PBS Press se kantore op en bied haar 'n aanbod aan wat sy nie kan weier nie.

Die 72-uur 02 Troue.png

Die 72-uur Troue

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-16-0

Missy van der Westhuizen was nog altyd gewoond daaraan om te kry wat sy wil hê. Dis waarom sy daardie aand in 'n oomblik van dapperheid haar hart onbloot het en haarself op 'n skinkbord aangebied het vir die enigste man wat sy nog ooit wou gehad het. Die probleem is, hy het haar reject. En vier jaar later brand die sting van daardie vernedering nog steeds...

 

Nou moet Missy Kaap toe vir haar tweelingbroer se troue en hý gaan ook daar wees. As sy net deur hierdie drie dae kan kom met haar waardigheid nog in plek, hoef sy hom nooit weer te sien nie. Niemand, en veral nie hý nie, hoef te weet hoe sy régtig oor Lukas voel nie...

 

Lukas Toerien se lewe was nie maklik nie, en vier jaar gelede het hy alles behoorlik laat ontspoor. Vir vier jaar lank al hardloop hy weg vir die waarheid – die waarheid oor homself, oor sy verlede … en oor háár. Maar hy is moeg gehardloop, en toe Rhys hom na sy troue nooi, weet Lukas dis tyd om sy demons te face. Wat ookal gebeur, Missy moet die waarheid weet. Dan sal hy kan wegstap en vrede maak met die feit dat hy haar nie kan hê nie, dat die enigste meisie wat hy nog ooit wou gehad het, vir altyd vir hom verbode is.

Die 72-uur 03 Vonnis.png

Die 72-uur Vonnis

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-17-7

Die lewe het vir Simon van der Westhuizen al 'n paar curve balls gegooi. Dit het hom geleer om aan te pas en om hard te werk, en om nooit beheer oor sy hart vir iemand anders te gee nie. Hy is tevrede met sy lewe en, anders as sy twee broers, is hy nie van plan om homself ooit aan 'n vroumens te verbind nie.

 

Maar dan gooi die lewe nóg 'n onverwagse curve ball, en Simon bevind homself een oggend in die hof op aanklag van roekelose bestuur. Nes die meeste ander dinge in sy lewe, was dit nie sy skuld nie … maar die regter meen dis 'n goeie idee om hom tot drie dae gemeenskapsdiens te vonnis...

 

Marjorie Winter gaan nie toelaat dat haar nuutste gemeenskapsdiens-volunteer vir haar ore aansit nie. Die maatskaplike werkster het haar immers gewaarsku teen hom. Gelukkig is Simon van der Westhuizen nie die eerste kansvatter waarmee sy te doen kry nie. Sy kén mans soos hy wat dink omdat hulle aantreklik is, reëls en regulasies nie op hulle van toepassing is nie. Maar vandat Simon by die shelter opdaag, krap hy haar kop én haar hormone deurmekaar. Sy is aangetrokke tot hom, al weet sy dis nie 'n goeie idee nie. Al weet sy hy het die woord 'disaster' op Post-Its oor sy hele lyf geplak!

Die 72-uur 04 Leuen.png

Die 72-uur Leuen

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-18-4

Vier jaar gelede het Chani Mouton se lewe ontspoor. Die lugredery se belofte dat sy die wêreld sou sien, was 'n uitkomkans, 'n manier om weg te kom uit die Kaap. Maar nou sit sy vas in 'n siklus van binnelandse vlugte, soms tot vier keer per dag. Dis ondraaglik, maar ten minste is dit veilig.

 

Een aand is daar 'n mix-up met die bookings, en Chani bevind haarself gestrand in die reënerige Moederstad sonder 'n vlug uit. Sy't nêrens om heen te gaan nie, niemand om te bel nie. Die enigste mense wat sy ken, is die mense wat sy al vier jaar lank vermy. Dan duik 'n oplossing skielik op. Al wat sy moet doen, is om 'n kleinerige witleuntjie te vertel...

 

Jake Gerber se lewe is all work and no play. Binnekort moet hy die stuur van die familiebesigheid oorneem, so daar is nie tyd vir distractions nie. Maar toe daardie krulkop met die lang bene by die hotel instap, weet Jake hy is in die moeilikheid. Sy steek iets weg – hy kan dit aanvoel – en hy is vasbeslote om agter die kap van die byl te kom.

 

Toe Jake egter die waarheid oor Chani uitvind, dreig dit om alles waarvoor hy gewerk het, te vernietig. Hy is reeds te diep in – hook, line and sinker. As Chani se wêreld splinter, gaan dit syne daarmee saam vat.

Die 72-uur Storm

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928522-14-0

As enigste kind uit 'n gesiene gesin, het Lana Uys nog nooit 'n tekort aan geleenthede of finansies gehad nie.. Deur haar pa se konneksies het die land se voorste uitgewers haar raakgesien en gou besef dat sy 'n unieke talent het om storielyne reg te trek. Veral moordstories... Maar maak nie saak hoe netjies 'n mens jou lewe colour code nie, soms gebeur daar dinge buite jou beheer. Soos wanneer jy een stormagtige naweek 'n verlate gastehuis moet oppas, en 'n aantreklike vreemdeling daag op met bloedspatsels op sy hemp se mou. Soos wanneer die twee van julle dan saam daar vasgekeer word in die storm...

 

Nic Mellet het 'n verkeerde afdraaipad gevat – letterlik en figuurlik. Nou is hy gestrand by die Kanna en Kie gastehuis in die middel van nêrens in die ergste storm wat die Kaap in jare gesien het. Tot iemand weer die pad oopkry, gaan hy nêrens. En dis die verkeerdste moontlike tyd, want hy is op vlug van die polisie... Dit is ook die verkeerdste moontlike tyd om te val vir 'n meisie, maar Lana Uys, die donkerkoppie in charge van die gastehuis, het al sy hormone in 'n warboel. Nic weet dat, as hy ingee, hy haar saam met hom by sy gemors gaan insleep. So, hy sal maar net sy hande vir homself moet hou vir die volgende drie dae.

Die 72-uur Guns

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928522-39-3

Om die enigste kind uit 'n geskeide huis te wees, het sy voordele. Soos die woonstel wat Tillie Enslin se pa vir haar gekoop het nadat hy 'n nuwe kind saam met sy nuwe vrou gehad het en die skuldgevoelens hom sy tjekboek laat uithaal het. Net jammer sy het die plek nie regtig nodig nie, nie met al die housesitting jobs wat sy inkry nie. Maar toe 'n vriendin vra of Tillie haar woonstel vir drie dae sal kom oppas, kruis haar paaie met dié van Coenrad Vos, haar vriendin se onnutsige en aantreklike tweelingbroer. En vir die eerste keer in haar lewe begin Tillie wonder hoe dit sal wees om haar tasse vir altyd iewers te kan uitpak...

 

Coenrad Vos se gesin het hom nog altyd gesien as die swartskaap, die drifter wat niks agter sy naam kan kry nie. Toe hy destyds oorsee is, agter 'n vriend se beloftes van groot geld aan, het sy ouers en tweelingsuster hom afgeskryf. Niemand het vir twee jaar van hom gehoor nie, en niemand het verwag dat hy een koue wintersoggend weer in die Kaap sou opdaag nie.... Maar toe Coenrad aan sy  tweelingsuster se deur klop, is dit nie sy wat oopmaak nie. Dis Tillie Enslin, die skaam meisie met die helderblou oë wat voel asof hulle dwarsdeur hom kyk...

72-uur Plan cover image3.png

Die 72-uur Plan

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928522-54-6

Toe Cassandra Harmse se abusive ex weer voor haar deur opdaag, weet sy sy het 'n probleem. Nie net is hy bereid om alles in sy vermoë te doen om haar terug te wen nie, maar hy het ook haar familie se ondersteuning. Nie een van hulle weet wat hy aan haar gedoen het nie. Niemand weet van daardie dag in die coffee shop toe die aantreklike barista tot haar redding gekom het nie...

 

Noah Miles lek al maande lank sy wonde nadat die groot liefde van sy lewe aan 'n ander man verloof geraak het. Hy is geensins in die bui om by iemand anders se liefdeslewe betrokke te raak nie. Maar as daar nou één ding is wat hy verpes, is dit 'n boelie. Dít is die rede waarom hy daardie vent die dag by die coffee shop uitgegooi het. Dit het niks met Cassandra Harmse te doen gehad nie.

 

Maar nou bevind Noah en Cassandra hulle albei in situasies waaruit hulle desperaat is om te ontsnap. Om mekaar vir die volgende 72 uur uit te help en dan weer hulle verskillende rigtings te gaan, lyk na 'n goeie plan. Maar baie dinge kan verander in net drie dae...

 
 
 
 
 
 
 
Klub Katastrofe 01 Tinka.png

Klub Katastrofe: Tinka

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-00-9

TINKA

Tinka McMillan het 'n losing streak, en nie net by die poker-tafel nie. Weens 'n rits verkeerde keuses sit sy nou boonop sonder werk en sonder blyplek. Dan erf sy onverwags 'n verwaarloosde, ou antique shop in die hartjie van Kaapstad – 'n antique shop met 'n dakwoonstelletjie en 'n kat – en dit wil lyk asof haar geluk begin draai. Gou vind sy egter uit dat dinge nie is soos dit lyk nie. En om alles te kroon, daag die man wat verantwoordelik was vir al haar ongeluk op, haar aartsvyand, die één mens wat sy nooit weer wou sien nie.

 

LIAM

Liam le Roux is verbaas toe hy uitvind dat die nuwe eienaar van die antique shop Tinka McMillan is. Dié Tinka McMillan oor wie hy al jare lank skuldig voel. Miskien, as hy haar help, kan dit juis die closure wees wat hy nodig het om te kan aangaan met sy lewe, om die leisels van die familiebesigheid te kan gaan oorneem en uiteindelik daardie ring te gaan koop. As Tinka net nie so hardkoppig was nie en as die twee van hulle net nie alewig vasgesit het nie... Is dit Liam se skuldgevoel wat hom laat teruggaan vir nóg … of is dit iets anders?

Klub Katastrofe: Lizbe

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-01-6

LIZBE

Die lewe het vir Lizbe Carelse al 'n paar stampe gegee, maar min mense weet dit. Sy steek dit goed weg agter haar eksentrieke voorkoms, haar oversized hoede en reuse-sonbrille. Dit hou die mans ook sommer weg, het sy al geleer, want meeste mans is skugter vir eksentrieke vroue. Net jammer dit werk nie op die aantreklike Rolf Dreyer nie. Hy maak g'n geheim daarvan dat hy haar wil hê nie. Hoe meer Lizbe hom wegstoot, hoe meer vasberade kom hy terug. Maar toe die noodlot die twee van hulle saamgooi, begin dit lyk asof Rolf dalk die één mens is wat haar kan red.

 

ROLF

Rolf Dreyer se lewe was nog altyd sonder komplikasies. Dinge het maklik vir hom gekom. Tot hy die dag sy oë op Lizbe Carelse gelê het. Dié vreemde skepseltjie met haar kreatiewe voorkoms gee hom al sy dae. Sy duck and dive hom om elke draai, maar Rolf is vasbeslote om deur haar maskers te breek. Hoe nader hy egter aan Lizbe kom, hoe meer begin Rolf vermoed dat haar lewe in gevaar is. En nou sal hy alles in sy vermoë doen om haar te beskerm, om tussen haar en die donkerte te gaan staan. Al weet hy nog nie wat dit is nie. Al maak dit glad nie sin nie. 

Klub Katastrofe 03 Charlotte.png

Klub Katastrofe: Charlotte

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-02-3

CHARLOTTE

Vier jaar gelede het Charlotte Brink van Piketberg af stad toe getrek. Vier jaar lank werk sy by Rocket Dynamics en vir vier jaar lank al is sy verlief op haar baas, die perfekte CEO Melt Porter. Vandat Charlotte hom die eerste keer gesien het, was sy oortuig daarvan dat hulle saam hoort, en sy was bereid om te wag. Maar nou het dinge verander. Die man van haar drome sien haar uiteindelik raak. Die perfekte plan waaraan sy al vier jaar lank geskaaf het, is gereed om geïmplimenteer te word. Die enigste probleem is, sy is skielik nie meer so seker dat Mélt die een is wat sy wil hê nie...

 

BEN

Benjamin Porter is in die stad op 'n missie. Sy oom het hom gevra om te kom rondsnuffel in Rocket Dynamics se finansies. Daar's ongerymdhede en dit lyk asof sy broer, Melt, betrokke is. Dit was veronderstel om 'n vinnige trip te wees, 'n guns vir sy oom. Ben het egter nie gereken op Melt se skerp assistentjie nie. Van hulle eerste ontmoeting af, krap Charlotte Brink al sy planne deurmekaar. Sy enigste kans is om haar aan sy kant te kry, besef hy. Maar hoe meer tyd Ben in Charlotte se teenwoordigheid deurbring, hoe minder is hy lus om haar weer te laat gaan...

Klub Katastrofe 04 Quinn.png

Klub Katastrofe: Quinn

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-03-0

QUINN

Klub Katastrofe se laaste enkellopende lid, Quinn McCarthy, word teen haar sin by 'n polisie-ondersoek betrek toe een van haar kliënte buite haar tattoo shop vermoor word. As enigste ooggetuie, plaas dit haar lewe nou in gevaar. Quinn weier egter om haar te laat voorskryf deur die bombastiese en geslote (dog aantreklike) speurder in beheer van die ondersoek, en besluit om haar veiligheid in eie hande te neem. Maar sy was nie voorbereid daarop dat sy, ten spyte van haar beste voornemens, meer en meer aangetrokke tot Kaptein Crause sou wees nie. Net jammer hy het dit baie duidelik gemaak dat hy glad belangstel in haar nie...

 

ETIENNE

Kaptein Etienne Crause het één doel voor oë: om Jason Parker se moordenaars vas te trek. En daarvoor het hy sy enigste ooggetuie, Quinn McCarthy, léwend nodig. Maar hoe harder hy probeer om haar veilig te hou, hoe meer hardkoppig en eiewys raak sy. Dit help ook glad nie dat haar unieke voorkoms en aansteeklike vrolikheid besig is om met sy kop te smokkel nie. Sy is ánders as al die ander meisies wat hy al ontmoet het. Sy is 'n uitdaging – iets wat hom, teen sy sin, soos 'n magneet aantrek. Maar Etienne Crause is op 'n goeie plek in sy lewe. Hy weet wie hy is en hy't vrede gemaak daarmee. Hy is nie in die mark vir komplikasies nie...

Gran Via 01 Skildery.png

Die man in my skildery

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-11-5

LIEBE...

Liebe Rossouw het nie tyd vir sulke ouvroustories nie. As sy haar kunsdiploma wil kry en vir eens en altyd onafhanklik van haar ryk familie wil wees, moet sy haar finale projek – 'n portretstudie – binne vyf dae inhandig. Toe haar woonstel se plafon inmekaarsak, stel haar suster voor dat sy tydelik in Gran Via gaan bly. Net tot die skildery klaar is. Net tot die nuwe huurder intrek.

Nou moet Liebe net die regte model kry vir haar skildery. Haar vriendin, Callista, bied aan dat Liebe haar nuutste boyfriend 'leen'. Hy is sag op die oog. En hy is tussen projekte. Maar dis nie lank nie, of die vonke spat tussen Liebe en Joseph...

Gran Via 02 Droom.png

Die man in my droom

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-12-2

MIA...

Vir sewe jaar lank het Mia la Grange haar alie afgewerk om haar familie se besigheid te red, en om alles weer op te bou wat deur die vuur verwoes was. Vir sewe jaar lank was sy haar pa en haar broer, Frans, se steunpilaar. Maar toe haar prokureur-boyfriend haar vra om te trou, weet Mia sy het tyd op haar eie nodig. Sy besluit om vir ses maande in Gran Via te gaan bly. Net ses maande. Daarna sal sy die huweliksaanbod aanvaar. Sy sal mal wees om dit níe te aanvaar nie. Dis 'n goeie aanbod.

So hoekom droom sy nou, ná al die jare, weer van Byron Gates … die moeilikheidmaker wat destyds verantwoordelik was vir haar familie se ondergang?

Gran Via 03 Pad.png

Die man in my pad

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-13-9

CASSIDY...

Die woonstel is Cassidy du Randt se laaste hoop. As die legende van Gran Via waar is, sal sy binne die volgende vier maande die liefde van haar lewe ontmoet. Dit sal beteken dat sy uiteindelik sal kan aanbeweeg met haar lewe, dat sy nie langer stuck sal wees nie. Dit sal beteken dat sy uiteindelik sal kan vergeet van Dawid Basson.

Tien jaar gelede het Cassidy vir haar beste vriendin se broer geval, en vir tien jaar lank al staan hy vierkantig in haar pad. Haar lewe staan stil. En hy stel nie belang in haar nie – hy sien haar nie eens raak nie! So, dis tyd dat sy oor hom kom. En die woonstel gaan haar daarmee help. 

Gran Via 04 Kantoor.png

Die man in my kantoor

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-14-6

ANOUK...

Dis 'n een-in-'n-miljoen kans – dalk haar enigste kans. En dit is waarom Anouk Barkhuizen besluit het om die bietjie erfgeld wat haar ma haar gelos het, te vat en Kaap toe te trek agter 'n internship aan. Maar nou lyk dit asof sy van haar droom om 'n skrywer vir die gewilde aanlyn-tydskrif, Cape Connect, te word, kan vergeet. Haar nuwe baas is 'n arrogante chauvinis, en 'n pyn in die dinges! En as sy hom nie vinnig met 'n goeie storie kan beïndruk nie, sal sy sak en pak moet terugtrek Ladismith toe.

Dit help nou ook nie juis dat Vincent Sontonga spiere het vir Afrika nie … en die mooiste diep stem wat sy nog ooit gehoor het. 

Greyson_01 Amalie.png
Greyson_02 Nikita.png
Greyson_03 Este.png

Die Greyson-probleem volgens Amalie Verhoef

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-07-8

NEIL

As oudste seun en die nuwe CEO van Greyson Investments, voel Neil Greyson die verantwoordelikheid swaar op sy skouers. Hy het nie tyd vir meisies nie, nog minder vir die media wat hom op al wat 'n voorblad is opdis as die een of ander stuk vleis... Toe sy ma daarop aandring dat 'n joernalis hom vir 'n paar dae volg en 'n reeks artikels oor die nuwe hotel skryf, weet Neil sommer dit gaan 'n lang week wees. Hy het egter nie besef dat die joernalis vróúlik gaan wees nie. Hy het ook glad nie gereken daarop dat sy dwarsdeur sy maskers sal kan sien nie...

 

AMALIE

Amalie verstaan nie hoekom Fiona Greyson haar genader het vir die artikels nie, veral aangesien dit juis háár omstrede blog was wat die Greyson-probleem voorbladnuus gemaak het... Maar dis die kans van 'n leeftyd, 'n voet in die deur, 'n geleentheid om die redakteur van die Times te beïndruk en dalk 'n permanente pos te kry. Al wat sy moet doen, is om die aantreklike Neil Greyson oral te volg. Dis egter nie lank nie of die vonke spat tussen Amalie en die CEO van Greyson Investments – die één man van wie sy so graag nié wou hou nie...

Die Greyson-probleem volgens Nikita Joubert

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-08-5

PAUL

Sielkundiges meen Paul Greyson se voorliefde vir spoed is iets wat hy oorgehou het van die motorongeluk waarin sy ouers destyds oorlede is. Hy was immers as driejarige saam met hulle in die kar, vas aan die slaap in sy stoeltjie. Oor die jare het Paul geen tekort aan female attention gehad nie. Dis net dat hy beter dinge het om met sy tyd te doen, soos om op Killarney uit te hang. Die koerante beweer hy is liewer vir sy karre as vir mense, en Paul is geneig om saam te stem. Maar dan loop Nikita Joubert by Greyson Investments se kantore in en krap alles deurmekaar...

 

NIKITA

Die afgelope paar jaar van Nikita Joubert se lewe was alles behalwe maklik, en nou is sy desperaat. Toe Fiona Greyson haar nader om haar oudste seun se troue te reël, het Nikita geen ander keuse as om in te stem nie. Al beteken dit dat sy haarself dikwels in Paul Greyson se teenwoordigheid gaan bevind... Van die eerste oomblik af is die elektrisiteit tussen haar en Paul onmiskenbaar. Maar Nikita het lankal besluit om weg te bly van mans soos hy. Paul is gevaarlik en onverantwoordelik. Hy speel met die lewe – iets wat sy nie meer kan bekostig om te doen nie. 

Die Greyson-probleem volgens Este Erasmus

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-10-8

CHARLIE

As jongste lid van die suksesvolle Greyson-familie, is daar min wat in Charlie se pad staan. Hy is ryk, aantreklik, en boonop slimmer as die meeste mense. Met sy fyn waarnemingsvermoë, sy skerp humorsin en sy voorliefde vir practical jokes, is hy 'n gedugte teenstander in enige woordewisseling. Maar dit was vóór sy ma haar voet neergesit het en hom gedwing het om Este Erasmus as sy prokureur aan te stel. Mál Este Erasmus. Die bure se dogter wat jare lank soos 'n stertjie agter hom aangeloop het. Die spreekwoordelike doring in sy vlees...

 

ESTE

Dit het Este Erasmus amper ses jaar geneem om oor Charlie Greyson te kom – ses jaar en duisende rande aan sielkundiges. Sy het uiteindelik haar lewe agtermekaar. Sy is op 'n goeie plek. Sy is verloof. So, toe sy 'n werksaanbod in die Kaap kry op voorwaarde dat sy Charlie se dagvaarding hanteer, wil álles in haar dit weier. Maar ten spyte van al hierdie dinge, het Este ook 'n plan – een waarvan niemand nog weet nie. En al gee die gedagte aan teruggaan Kaap toe haar koue rillings, weet sy Charlie Greyson is die laaste legkaartstukkie in hierdie plan...

 
 
 
 
 
 
 
 
Sexy Bistro 01 Bestuurder.png

Die Sexy Bistro se bestuurder

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-04-7

MADI...

Madi van Jaarsveld weet niks van die restaurantwese af nie, nóg minder van wat dit vra om 'n besigheid te bestuur. Maar as sý nie die leiding gaan neem en haar twee vriendinne tot aksie dwing nie, sal Die Sexy Bistro nooit realiseer nie. En dan sal sy vir die res van haar lewe skuldig voel... Sý was die een wat nooit wou waag nie. As dit nie vir haar oorversigtige rekenmeester-brein was nie, sou Erika nie doodgegaan het met haar droom steeds onverwesenlik nie. So, sy skuld haar.

Maar dis nie net die nuwe restaurant wat haar slapelose nagte gee nie... Daar's ook Reuben Gibbs, die arrogante, onbeskofte eienaar van die gebou wat hulle huur, met sy onmoontlike groen oë en sexy glimlag. En die laaste ding waarvoor Reuben kans sien, is nóg 'n mislukte restaurant op sy perseel. 

Sexy Bistro 02 Sjef.png

Die Sexy Bistro se sjef

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-05-4

JULIA...

Daar is twee dinge wat Julia Ludick onthou van haar eerste dag in die nuwe Kaapse hoërskool. Sy onthou vir Erika. En sy onthou dat sy Thys van Jaarsveld se neus gebreek het... Daardie dag was die begin van 'n boesemvriendskap tussen haar en Erika, en 'n jarelange vyandskap tussen haar en haar vriendin se broer. Maar nou is Erika dood, en Julia het bedank as sjef by Die Sexy Bistro. Sy vlug Buffelsbaai toe om daar te probeer vrede maak met haar vriendin se dood en die spoke van haar verlede.

Maar toe Thys van Jaarsveld met sy grys oë en sy sexy glimlag voor haar deur opdaag, kom krap hy 'n klomp ou wonde oop. Hoe langer sy en Thys koppe stamp, hoe sterker word die aantrekkingskrag tussen hulle. En vir die eerste keer in haar lewe begin Julia wonder of stukkende harte weer kan heel word...

Sexy Bistro 03 Ontwerper.png

Die Sexy Bistro se ontwerper

ANNA EMM  |  ISBN: 978-1-928517-06-1

KARLIEN...

Karlien Delport het 'n geheim. Een waaraan sy al amper 'n jaar lank baie swaar dra. Maar as die enigste dogter van die bekendste juweelontwerper in die land – 'n eksentrieke busybody-ma – het Karlien lankal geleer om haar geheime vir haarself te hou. Sy weet presies hoe om te glimlag en wat om te sê om weg te steek wat sy nie uitgesnuffel wil hê nie. Tot dusver het dit goed gewerk. Die enigste mens wat haar geheim geraai het, was Erika. En Erika is dood.

Met Madi nou ook verloof, en Julia wat oor 'n week trou, is Karlien die laaste lid van die oorspronklike viermanskap wat nog single is. Almal soek vir haar 'n man en reël vir haar die een blind date ná die ander. Maar die enigste man in wie sy belangstel, die één man wat sy al amper 'n jaar lank in die geheim liefhet, is die een man wat sy nie mag hê nie...

 
 
 
 
 
 

©2020 by ANNA EMM

  • Facebook

Follow me on Facebook

  • Instagram

Follow me on Instagram

  • Twitter

Follow me on Twitter

Contact:

Email: news@annaemm.com

This site was designed with the
.com
website builder. Create your website today.
Start Now